Ogaats ‘n slaggat

Share this on social media:

Dit het sopas verspot maklik geword om ‘n slaggat te rapporteer. ‘n Private inisiatief het sopas ‘n eenvoudige, mobiele webblad beskikbaar gestel om slaggate en ander pad- en stormwater verwante foute anoniem aan te meld.

Met die gepaste naam, Ogaats.co.za rangeer hulle jou probleem na die gepaste departement sodat jy kan voortgaan om jou lewe verder te geniet. Ogaats gebruik area gebaseerde data asook ‘n foto wat jy met jou kamerafoon kan neem om die inligting direk na die regte departement te stuur. Dit haal die raaiwerk uit die proses en maak die proses heeltemal deursigtig.

Al wat jy nodig het is ‘n kamerafoon en toegang tot die Internet. Daar is geen voorvereistes soos om ‘n Mobile applikasie af te laai nie en jy hoef ook nie te registreer nie. Die fokus is op die gebruiker en daarom behoort dit jou nie langer as 30 sekondes te neem om ‘n fout te rapporteer nie.

Ogaats.co.za is tans in die hele Wes-Kaap beskikbaar, maar planne is reeds in plek om die res van die land in te sluit.